Inleiding.

Definisie van Reformasie:

Dit is die aanhoudende verdediging van Die Geloof, soos vasgelê in die Heilige Skrif alleen wat berus op die fondasie van die Apostels, teen ander en valse evangelies wat daardie primitiewe vaste beginsels aanpas en verdraai. Dit moet altyd terugkeer na daardie oorspronklike leerstellings en nie hervorm word om by kontemporêre neigings en kultuur aan te pas nie. Daar is geen nuwe hervorming nie maar die onveranderlike Oue, moet egter nuut gemaak word.

Die sogenaamde moderne mens hou nie eers, ken nie eers daardie Geloofbelydenis, die Heidelbergs Kategismus en die Sinode van Dordrecht se beginsels nie wat voldoende is sonder om nog ʼn belydenis daar te stig.

Die algemene aanvaarbare sienswyse dat Reformasie deur verbetering van teologie geskied, of aanpas by die tye of kultuur, is nie korrek nie, want reformasie is telkens die terugkeer na die teologie wat die Apostels en Profete neergelê het volgens die Woord van God, en nie die aanpassing by die moderne godsdiens nie. Reformasie is nie moderne konsepte in teologie wat anders is as wat die Apostels gehad het nie. Daar is nie nuwe insig, openbaring en kontemporêre aanpassings van teologie nie. Dit het nie verander van Paulus se tyd nie, nie verander van Wickliffe se tyd, of Calvyn se tyd nie. Daar is juis dan meer Afrika in Christendom, Amerikanisme met sy Arminianisme in Christendom en Roomse mistisisme wat weer posvat in Christendom. Dan is die vinnigste groeiende Kerk regoor die wêreld, die Sewendaagse Adventiste.

Terug na die lering van die Apostels en die Woord van God.

Kan ons verbeter op die Heidelbergs en Westminster se kategismus? Weinig, want die is ʼn ware ortodokse werk, volledig met getroue verduideliking van die beginsels wat die Bybel neerlê. Dit staan vandag nog vas as die mees skrifgefundeerde beginsels volgens die Woord van God. Dit is vir kinders geskryf deur dr. Zacharias Ursinus, ʼn Alma Mater van Wittenberg en ʼn gesogte digter in Latyns en Grieks asook meester in Frans en Hebreeus. In 1562 is die Heidelberg Kategismus saamgestel en in veertien tale vertaal, asook in Arabies. Indien ons as volwassenes dit tog biddend sal lees, sal ons nie verval in allerhande vleesstrelende, genotvolle, esteties en ekstatiese teater aanbidding, met sy gepaardgaande mantra lirieke met min of geen skrifinhoud en alternatiewe state van bewussyn met fenomene van neerslaan en kontorsies nie. Ook sal ons dan nie verval in demoniese skaterlag, onder ʼn ongeleerde, onwaardige, ander gees vervulde Pastoor nie, of, verval in ʼn Christuslose, Kruislose, Middeleeuse monastisisme met sy mistisisme nie.

Die mees noukeurigste geloof belydenis wat al die toets van millenniums deurstaan het, is die wat die Apostels vasgelê het wat deur die eeue heen deur ligdraers van die geloof verdedig en behoue gebly het. Die goue draad van Die Geloof, is keer op keer bevestig deur stryders van die geloof vanaf 50 NC en die ooreenkoms wanneer hulle reformasie bring ten tye van afdwaling, strook eensgesind te wees met Reformatoriese teologie. Die Woord wat ons na terugkeer bring keer op keer die beginsels terug van die Vyf Solas en die Vyf Punte van Dordrecht. http://www.reformedtruth.co.za/index.php?option=com_content&view=article&id=133:christelike-terme-gereformeerde-sienswyse&catid=5:afrikaans&Itemid=8

Dit is duidelik dat deur die eeue heen was diegene wat God gebruik het om standvastigheid en Skrifgefundeerde beginsels te bewaar briljante, geleerdes in die antieke tale en die Skrifte, asook baie belese in die Griekse filosofie. Selfs Paulus het ʼn Griekse filosoof aangehaal in die Bybel. Nie dat Aristoteles enige bydrae gebring het nie, inteendeel Luther het vir Aristoteles in sy lesings as ʼn antitese van godsdiens gebrandmerk. In baie gevalle soos Tertullian, was daar advokate, geleerdes in die regte en wetenskaplikes wat God gebruik het. Indien ons vandag sulkes soek in Charismate dan moet ons mooi dink wie en waar hulle is. By gereformeerdes kan ek dink aan teoloë soos Ridderbos, Bavinck, Vos, Berkhof, William IJ Packer, Martin Lloyd Jones, Hodge, Boice, Piper, Stott, Hendriksen, Hoeksema en mense soos meer onlangs, Michael Horton, Riddlebarger, wat ligdraers onlangs was en is. Indien jy die vraag vra wat se bydrae het hulle by sending werk en die verkondiging van die evangelie gedoen kan ek vir George Whitefield van die 18 de eeu aan jou voorstel. Hy het meer as agtien duisend sending preke gelewer aan meer as tien miljoen mense deur Engeland en regdeur die Amerikas. Die grootste prediker van alle tye en hy was gegrond in Gereformeerde teologie en ʼn student aan Oxford. Daar was aggressiewe evangelisasie maar met soliede gereformeerde of Calvinistiese teologie, soos Jonathan Edwards die Amerikaanse intellektueel en verdediger van Reformatoriese teologie en meer bekend oor sy preek van “Sondaars in die hand van ʼn woedende God.” Met hierdie preek het mense aan hulle stoele vasgeklou en uitgeskreeu tot God want hulle was besig om in die Hel in te val. Moet ook nie sê dat Spurgeon geen opleiding gehad het nie want sy biblioteek was oor die 5000 boeke wat nog beskikbaar is in ʼn Baptiste seminaar. Hy het ook Reformatoriese teologie gepreek sonder om ʼn Altaar beroep na die preek te doen vir ook sowat tien miljoen mense, die Prins van Predikers is hy genoem. Enige ander Pinkster of Charismate, of Premillennialiste, het geen noemenswaardige teoloë opgelewer nie. Of, sê jy vir my dat Osteen, Meyer, Buchan, Joyner, Hinn, Copeland, Hagin, Hagee, Hunt of Rodney Howard Brown enigsins waardig is om voorafgenoemde se Bybel te dra. Nee, hulle is patetiese figure en nie waardig om agter ʼn preekstoel te staan nie. Dit is juis oor diegene wat daar Reformasie nodig is.

Wat bring Reformasie of Herlewing? Die Woord van God

D’Aubigne (1794-1872) het gesê; dat die ware Reformasie is die wat sy oorsprong het uit die Woord van God. Die Heilige Skrifte, wat getuig van die inkarnasie, dood, en opstanding van die Seun van God, dit skep in die mens deur die Heilige Gees ʼn geloof wat hom regverdig. Daardie geloof, wat in hom nuwe lewe produseer, verenig hom tot Christus, sonder dat die mens ʼn ketting van biskoppe of ʼn Roomse mediator nodig het wat hom afsonder en skei van DIE Verlosser in plaas van hom nader trek. Die Reformasie DEUR DIE WOORD herstel die geestelike Christendom wat die uiterlike en hiërargiese religie vernietig het – en van die regenerasie van individue vloei die natuurlike resultaat van die regenerasie van die kerk.

“Die werk wat begin is in die eeu van die Apostels, vernuwe is in die tye van die hervormers, moet in ons dae hervat word met heilige entoesiasme; en die werk is baie eenvoudig en baie mooi, want dit bestaan uit die bevestiging van die troon van Jesus Christus in die kerk en op die aarde.” Jesus Christus is Reformasie. D’Aubigne, Maart, 1853

Ons kan onself die vraag vra: Reformasie uit en van wat? Hoekom is en was reformasie nodig?

Die fondasie van die Apostels en Jesus Christus die Hoeksteen, was nie lank na die Apostels se afsterwe verdraai, versmaai, aangepas om die liberale en humanistiese mens te bevredig, met ander woorde, die sondige mens wat God wil afbring na sy norms en sienswyses en homself op die troon plaas. Die Roomse leerstellings en bygelowe het die mens in die mag van die Kerk geplaas. Die Woord van God, sê die Roomse, is nie aan die varke gegee nie, die pêrels aan die swyne nie; dit was Rome se credo. Verwysend na die Pous as alleenverklaarder van die Heilige Skrif wat die mens nie beskore is om self te lees en goddelike openbaring in te vind nie. As dit nie vir God se Raadsbesluite was dat sommige gered word nie, het die volk tot niet gegaan deur onkunde. Deur die genade was daar altyd ligdraers waarna ons in meer diepte gaan kyk. Die mag van Rome was wêreldoorheersing, oor konings en heersers en regerings. Alle mag, rykdom, belasting, grond, paleise en eiendom was die staat nl. Rome s’n. Die klerikale het in rykdom, ydelheid, onder andere in dobbel, hoerery, drank en perversie geleef. Massas geld is ingesamel deur belasting van die publiek vir die skatte en estetiese kerke van Roomse afgodediens. Geld is afgepers, gemanipuleer deur sonde vergiffenis te verkoop, afgestorwenes te begrawe en die in vaevuur te bevry. Dit was en is nie ʼn kerk nie, maar ʼn tirannie wat nie die mandaat van God het nie. Daarom was reformasie nodig, uit bygeloof en van ewige verduistering. Daarvoor is reformasie nou nodig.

Die Hervormers het geen gids gehad hoe om verandering te bring nie, maar altyd was daar ooreenstemming deur diegene wat die Woord van God gehad het as riglyn. Maar hoe; indien geeneen toegang gehad het tot die Woord van God nie. Vanaf 200 nC was daar ooreenstemminge, onafhanklik van mekaar, uit wat, en hoe om verandering te bring. Ooreenstemminge in die totale korrupsie van die mens, dat slegs deur gegewe geloof sonder enige werke of bydrae, in slegs Jesus Christus deur slegs genade van God, tot eer van God deur die Woord van God alleen; verlossing moontlik is. Dit was nie Luther of Calvyn se punte nie, maar lank voordat hulle op die toneel verskyn het, was daar kampvegters vir Reformasie wat gedurende die sestiende eeu tot volwassenheid gekom het.

Basies het almal uit die Gees van God gepraat en die kern aangeleenthede was wat in antitese met Rome gestaan het, en ook met die Rome van vandag. Nie net die Roomse Katolieke kerk nie maar die nuwe bewegings van die sogenaamde ontluikende kerk van die 2 de millennium wat al hoe meer en meer Roomse beginsels aanhang, meer en meer Arminiaans word: http://www.reformedtruth.co.za/index.php?option=com_content&view=article&id=134:bybelse-terme-gereformeerd-verduidelik&catid=5:afrikaans&Itemid=8

Oor die volgende punte het die Reformators deur die eeue saamgestem en met hulle bloed dit verdedig: Dit is vandag nog Gereformeerde beginsels wat op die Heilige Skrif Alleen rus:

  1. Die totale korrupsie van die mens, dat die geboorte van alle mense is in ʼn staat van sonde en ewige oordeel.
  2. Die mens is hulpeloos in hulle sonde en kan nie deur meriete of deur enige daad van homself verlossing kry nie.
  3. Deur Christus se daad op die kruisdood alleen is daar verlossing van sonde
  4. Die vrye regverdigmaking van die sondaar op die grond van Jesus se geregtigdheid, ontvang deur geloof
  5. Goeie werke vloei uit die geloof van die geregverdigde.
  6. Die mens het nie die mag van vrye wil nie. Die stelling kan pervers voorgestel word maar verg ʼn volledige verduideliking. (Kyk na artikels oor die totale verdorwenheid van die mens.) http://www.reformedtruth.co.za/index.php?option=com_content&view=article&id=154:vrye-wil-arminianisme–valse-evangelie&catid=5:afrikaans&Itemid=8

 

Dit is hierdie basiese leerstellings wat die antitese van Roomse leerstellings was en nog vandag is asook in die herverskyning van Arminianistiese teologie onder charismata.

Dit is dan eienaardig dat hierdie selfde onskriftuurlike wanvoorstellings van die evangelie; ‘weer na Rome toe,’ in die laaste dae verskyn. Dit herrys in die geledere van Arminianisme uit die leerstellings van Pinkster en Charismate. Bewakers van die Reformasie soos Jonathan Edwards, Spurgeon, Whitfield, Warfield, Berkhoff, Ridderbos, Vos, Calvyn, Bavinck, Horton ensovoorts, word verag en in onguns gebring. Dit is so dat die Nederduitse Gereformeerde kerk na die einde van apartheid nie meer sy staatsgesteunde outoriteit kan handhaaf nie en sodoende om sy status quo te handhaaf beweeg dit na liberalisme en kompromitteer Reformatoriese beginsels. So erg het dit geword dat selfs die Skepping van God, die opstanding van Christus, die kern van die evangelie nie net bevraagteken word nie maar diegene wat die dwaalleer verkondig aanvaar as legitiem en leraars in opleiding word kritiserende teoloë genoem en behou hulle status.

Kom ons kyk verder na wat vandag verkondig word deur sogenaamde wedergeborenes wat Reformatoriese beginsel versmaai en na Rome terugkeer. Kyk na die volgende ooreenkomste van hedendaagse teologie wat ooreenstem met Roomse leerstellings

  1. Die totale korrupsie van die mens, dat die geboorte van alle mense is in ʼn staat van sonde en ewige oordeel word deur Rome verwerp. Volgens Rome:Die mens word nie in Adam smet en sonde smet gebore nie maar word ʼn sondaar wanneer die eerste sonde gedoen word. Die mens is nie totaal dood in sonde nie maar geestelik lewendig genoeg om ʼn keuse te maak indien dit voor hom gelê word om homself sodoende uit sy bestemming en straf van die ewige dood te verlos, indien hy dit so verkies.
  2. Die mens is hulpeloos in hulle sonde en kan nie deur meriete of deur enige daad van homself verlossing kry nie. Volgens Rome en die res van Arminiane: Die mens het ʼn vrye wil en kan daadwerklik ʼn keuse maak, met ander woorde ʼn werk van die mens en kan God se wil weerstaan wat God hulpeloos in die mens se hande plaas, die mens op die troon met God die gentleman voor jou deur. Werke is belangrik deurdat dit jou lot aan die einde bepaal, jy kan jou verlossing verloor want daar is altyd voorwaardes vir verlossing en redding en volharding.
  3. Deur Christus se daad op die kruisdood alleen is daar verlossing van sondeDaar is altyd Christus en ek, my bedrae, die volkome daad van Christus word nie Alleen as die perfekte daad beskou nie, ons het nog ʼn bydrae. Die evangelie word die wet, dit word die gebiedende wyse en nie die aantonende wyse nie.
  4. Die vrye regverdigmaking van die sondaar op die grond van Jesus se geregtigdheid wat aan my toegereken of toegeken word, ontvang deur geloof word: Jesus se geregtigheid word deel van my sodat ek ʼn regverdigheid in my het wat as meriete dan beskou word. Perfeksionisme soos John Wesley homself voor beywer het en ʼn voorwaarde was vir ewige lewe. Natuurlik is die gee van tiendes deel van werke vir belonings geestelik en gesondheid, rykdom en voorspoed. Nie anders as Rome se inkomste wat bedreig was deur Gereformeerde beginsels nie is die Pastoor van vandag se salaris en sy Mercedes op die spel indien reformatories beginsels aanvaar word.
  5. Goeie werke vloei uit die geloof van die geregverdigde maar hedendaags word gesê: Goeie werke word gedoen om seëninge te ontvang en om verdienste te verkry. Daar word teruggekeer na Middeleeuse monastisisme.

Van Gereformeerde skriftuurlike beginsels na Roomse verdraaiings, na Reformasie en weer terug na Roomse beginsels. Dit is die kringloop wat die Kerk ervaar.

Die Reformasie van Engeland, Duitsland, Switserland, Frankryk, Swede, Denemarke, Noorweë en Ysland was bewerkstellig deur die Woord van God, lewend gemaak deur die Heilige Gees. Heilige dissipels, evangeliste in armoedige gewaad, ook van die adelstand het met brandende harte die Woord verkondig. Dit was die Woord van God wat hulle bekeer het, geopenbaar deur die Heilige Gees en nie deur ʼn tweede uitstorting of enige ondervinding van die Heilige Gees nie, soos ons sal sien. Jesus doop met die Heilige Gees, jy sê nie vir die Heilige Gees kom nie, of gaan nie, of bid vir Hom nie, jy kan Hom nie skei van Jesus Christus nie. Die onsigbare krag van die onsigbare God.

Alle individue was beïnvloed deur die Woord, die woord wat die Pouse vir hulle self gehou het en nie die Pêrel van die Woord vir die Swyne (algemene mens) gegooi nie,

Die Vervulling van die Paasfees en Pinkster

Eerstens is die vroeë en latere reëns van Joël se profesie vervul op Pinksterdag soos Petrus dit duidelik gestel het

Handelinge 2:16  Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: 

Handelinge 2:17  En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, 

Daar kom nie dae in die toekoms waar die Gees in ʼn groter mate uitgestort gaan word met ʼn herlewing in ongekende mate nie. Dit, was die herlewing en van die Gees is uitgestort op alle vlees. Ons is nog in daardie laaste dae tot voor Jesus se koms en die Gees word nog individueel uitgestort op alle vlees, (sommige van alle nasies) Jood en heiden van alle nasies soos uitgestort aan diegene wat teenwoordig was by die geskiedkundige vervulling van Pinksterfees. Histories was dit simbolies met die fees van die Jode wat die Tien Gebooie se ontvangs herdenk het, 50 dae na die Jode se uittog uit Egipte. Dit is dan op die besondere Pinksterfees se herdenking pas na Jesus se opstanding, wat die Heilige Gees uitgestort was op die Apostels en op alle vlees, hier waar die gebooie op die harte geskrywe was en die harte besny was vir individue van alle nasies wat glo en sal glo. Dit is die werk van die Heilige Gees waarmee Christus jou doop, Jesus die Christus is die Doper wat jou hart van klip vlees maak; dit besny met die geestelike doop in Christus, wanneer jy geseël word as een van die volmaakte simboliese 144 000 verlostes; dieselfde verlostes van die menigte wat die seël ontvang soos in Openbaring uitgebeeld. Die uiterlike teken daarvan is die water doop wat die onsigbare wonderwerk van die kind van God uitbeeld. Dit is nie enige ander waarneembare teken nie. Alle nasies was verteenwoordigend, “Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, Kretense en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek.”

Alle kerke is dus Pinkster kerke van daardie dag. Die noemnaam later vir Pinkster kerke wat die monopolie op wedergeboorte, onderdompeling en alleenreg toesê op die ontvangs van ʼn latere uitstorting van die Heilige Gees, is in desepsie indien daar gedink word dat hulle die volle evangelie verkry het, en al die ander vroeë en latere Gereformeerdes was en is tweede rang Christene.

Afdwaling uit die Reformasie.

Niks Nuuts Onder die Son nie.

Inteendeel ʼn uitstorting van “latere reëns” het ʼn Babelse verwarring gebring in progressiewe mate van onskriftuurlike evangelies, van valse leerstellings, en valse wonderwerke. Daar was altyd die entoesiaste soos die Anabaptiste wat se kenteken herdoop en nie ʼn credo was nie. Dit was nie die herdoop wat verwerp was nie, maar hulle stigting van ʼn hemelse stad op aarde, ʼn kerk waar geen sonde in is nie. Hulle strategie daartoe was om sonde te legitimiseer om sodoende sonder skuldgevoel en besmetting dan in die “heilige stad” te leef. Dit was Grebel en Manx, dissipels van Munser’s se eienaardige idee, dat hulle in die gees is en nie meer in die vlees nie en sodoende in sonde kon leef. Hulle het die lig gehad apart van die Bybel van God gehoor en geprofeteer. Wylie, bl. 62 beskryf hulle gedrag net soos ons dieselfde fenomene vandag in Pinkster en Charismate ervaar. “Hulle sal ʼn kring vorm in die straat en dans en sing, rol in die stof. Hulle sal in sak aansit en as oor hulle koppe strooi. Dan het hulle dierlike geluide gemaak, geprofeteer en openbaringe van die Heilige Gees ontvang.”Somtyds het die Anabaptiste fanaties opgetree soos gevalle van uitbundigheid en selfs moord wat die magistrate van Zurich laat optree het teenoor diegene wat die reformasie in onguns bring. Sommige was onthoof en ander verdrink, nie omdat hulle wederdopers was nie maar dat hulle siviele misdade gepleeg het en onrus gesaai het. Dit was ʼn sekte wat vir Zwingli meer opdraande gegee, in sy eie woorde, “meer sweet” gekos as die Roomse sekte. Hierdie strawwe was nie deur die Reformatore uitgevoer nie maar deur die regering van daardie tyd, nie deur Zwingli of Calvyn nie. Die wederdopers van vandag tree op as martelare van die reformasie deur te beweer dat dit omrede die wederdoop was wat hulle vervolg was. Ons kan maar weer na Munster kyk waar diegene die Koninkryk Nou wou stig net soos die Postmillennialiste vandag. Dit is merkbaar dat meeste onskriftuurlike bewegings begin by die wederdoop van lidmate. Niks is nuut onder die son nie, dit is wat die kerk vandag ook doen. Die verskil is; daardie tyd was die kerk streng teen sulke bonatuurlike onordelike uitspattighede van ʼn ander gees. Zwingli het dit met welslae teegestaan met die Woord en nie met vervolging nie want dit kon fataal gewees het vir die Reformasie en dit omgekeer in ʼn seën.

Zwingli het deur hierdie beweging met sy apologetiese bediening weereens die verhouding van die Nuwe en Oue Testament gesien; dat dit een boek is, een openbaring. Soos die verplanting van jong plante van ʼn kwekery na die ope veld wat nie hulle aard en natuur of gebruik verander nie, so verander die Goddelike openbaring van die Ou Testament se grond, wat eers die saad en plant bevat het, en na die Nuwe Testament of Evangelie dispensasie verplant is waar die plante permanent kan floreer. Geensins is hulle natuur en ontwerp verander nie, maar hulle identies gelaat, dieselfde prinsiepe en doel vir dieselfde einde. Die Doop het Zwingli geargumenteer, is kortliks, besnydenis en besnydenis doop, onder ʼn verskillende uiterlike vorm.

Daar was ook altyd Jesus Seminaar en “Nuwe Hervormers,” soos die van die Korinthiërs in hoofstuk 15 wat die opstanding as allegories beskou en vermitisieer het.

Kom ons noem die Gereformeerdes van vandag die ware kerk wat standhou by die Reformatoriese beginsels maar wat nie meer optree of sterk apologetiese uitsprake maak teenoor dwaalleer nie. Die ware Reformatoriese beginselvaste kerk tree nie meer op teenoor dwaalleraars nie, inteendeel die Trojaanse Perd is in die Kerk soos beskryf deur vegters vir die waarheid. Die vraag is of die Kerk nie meer legitiem is nie want hulle voer nie die opdrag van hulle skriftuurlike konstitusie uit nie, die opdrag van die Koning en die Koning is ontsteld. Kan die soort kerk verwerp word as die ware ecclesia van God?

Slot. 

Dit is alles die groot verval van die kerk, nie ʼn vinger kan gewys word indien daar nie 9 terug na jou wys nie. Die kerk is onsigbaar, saam met onkruid wel, onherkenbaar deur die mens, geen een het die monopolie op ʼn ware kerk nie, dit is Christus wat die kerk bou. Nie dat ons nie goeie, God beheerde administrasie nodig het nie, kyk wat het so ʼn administrasie Rome in die sak gebring, ʼn wêreldoorheersing. Calvyn het ʼn goeie konstitusionele administratiewe grondslag gelê vir die kerk. Dit is nou in die gemeentelede se hande om hervorming te bring teen liberalisme en die wat geloofsbelydenis en die vyf Solas verwerp, en die vernaamste; die Woord van God vermitisieer.

Kom ons onthou wat D’Aubigne gesê het: “Die werk wat begin is in die eeu van die Apostels, vernuwe is in die tye van die hervormers, moet in ons dae hervat word met heilige entoesiasme; en die werk is baie eenvoudig en baie mooi, want dit bestaan uit die bevestiging van die troon van Jesus Christus in die kerk en op die aarde.” Jesus Christus is Reformasie. D’Aubigne, Maart, 1853

In Hoofstuk 2 kyk ons ʼn die Kerk wat sy Krag verloor het en na ligdraers in die donker eeue.

D’Abigne, J.H. 1794-1872. History of the great reformation of the sixteenth century in Germany, Switzerland, &C.

Wylie, James Aitken. 1899. The History of Protestantism V2.

Ursinus, Zacharias. 1562. Commentary on the Heidelberg Catechism.

Genade, slegs genade alleen. Nico Engelbrecht